7 Elemente van Kuns: Tekstuur

Hi, ek is kunstenaar Lillian Gray en vandag se les is alles oor tekstuur. 

Wat is tekstuur?

Tekstuur  is hoe ‘n voorwerp voel. Dikwels in kuns moet ons as kunstenaars ‘n 3D voorwerp teken op ‘n 2D oppervlak. 

Texture, tekstuur, 7 elemente van kuns, 7 elements of art
Tekstuur is hoe iets voel.

Werklike of visuele tekstuur

In tekeninge en skilderye is tekstuur visueel, gesuggerreer, so ons kan nie regtig oor die kunswerk vryf en voel hoe ‘n wollerige mus voel nie.  Ons moet vir die toeskouer ‘n aanduiding gee van hoe ‘n voorwerp voel as hulle daaraan sou kon raak.

Kom ons gesels eers oor 2-dimensionele kuns en wanneer ons die illusie van 3-dimensionaliteit wil skep. Ons doen dit deur verskillende elemente as boublokke te gebruik.  Hierdie elemente van kuns soos vorm, toon, ruimte en tekstuur werk almal saam om 3-dimensionaliteit te skep. 

Kuns is ‘n universiele taal.

Wat ek daarby bedoel is dat as ek ‘n blom in Suid-Afrika teken,

sal iemand in China weet dit is ‘n blom, iemand in Mexico sal weet dit is ‘n blom en iemand in Amerika sal weet dit is ‘n blom.

Ons praat almal die taal van kuns. 

So dit is uiters belangril dat jy as kunstenaar besef dat jy konstant kommunikeer.  Wat ookal jy in jou hand is, ‘n potlood, ‘n kwas of ‘n pen is, jy kommunikeer met daardie gereedskap.

Kom ons fokus eers op potloodsketse. Waneer ek ‘n stillewe moet teken, en ek mag net ‘n potlood gebruik, hoe gaan ek vir die toeskouer verduidelik hierdie is glas, hierdie is ‘n mandjie en daardie is druiwe?  Hoe kommunikeer ek al hierdie dinge met slegs net ‘n potlood? 

Ons doen dit deur die illusie van tekstuur te skep. Voor jy dit kan doen moet jy eers verstaan wat jy sien, en DAN kan jy dit aan ander oordra. 

Het jy al ooit gewonder wat maak ‘n goeie kunstenaar?

Is dit talent? Spesiale DNA?, Nee dit is hoe goed hulle die wêreld kan  waarneem en dan weergee.  Jou moet jou oё leer om te kan sien. 

So, sit terug, word gemaklik en bestudeer eers jou voorwerp.  Vra jouself: is dit harig, is dit sag, is dit dof, is dit hobbelrig, absorbeer dit lig, reflekteer dit lig?

Sodra jy verstaan wat jy moet kommunikeer kan jy besluit watter metode sal die beste werk om dit weer te gee. 

Hoe word tekstuur opgebou?

Tekstuur word opgebou deur verskillende tegnieke om merke te maak. Kom ek wys vir julle sommige van die gewildste mediums.  Met potlode gebruik ons verskillende lyne om die illusie van verskillende teksture te skep.

In waterverf kan ons verskeie teksture verkry deur verskillende tegnieke te gebruik.

Hier is ‘n paar voorbeelde van verskeie tegnieke om tekstuur te skep met olieverf.

Daar is ook wonderlike goed wat ons by ons verf kan sit om meer kontemporêre teksture te kry. Wanneer ons akriel gebruik kan kunstenaars ‘n tekstuur pasta of gel mediums byvoeg om dik impasto akriel te kry.

So dit is net ‘n vinnige oorsig van hoe om die illusie van tekstuur te skep met van die hoofmediums in kuns.

3-Dimensionele kuns

Sommige kunswerke is nie net geskep om na te kyk nie, hulle betrek ook ons ander sintuie, soos beeldhouwerk, tapisserieë en installasies. Hierdie werke speel met teksture en hoe die oppervlak voel. 

Nou, ek sê nie jy moet in ‘n kunsmuseum rondhardloop en aan al die standbeelde en installasies vat nie.  Ek is seker dat daar een of ander alarm sal afgaan, en dan is jy in groot moeilikheid wees.

Wat ek probeer sê is dat selfs al is die kunswerke nie bedoel om aan te vat nie, dink die kunstenaars diep oor die tekstuur in hulle werke.

‘n Paar bekende skilderye met tesktuur.

Kom ons kyk na ‘n paar bekende skilderye sodat ons kan sien hoe hierdie kunstenaars tekstuur gebruik het. Lank terug het kunstenaars gespesialiseer in stillewes.  Hulle het ure en ure spandeer om dit perfek te maak. Het jy al ooit gewonder hoekom?

Dit was hulle cv, dit is waarmee hulle gespog het! Om hulle vaardighede te wys. Met ‘n stillewe kon hulle se, kyk net hoe kan ek glas, metaal, vrugte, en lap verf. Hierdie werke was dan uitgestal in die raadsale en dan kon die ryk mense rondkyk en kies watter kunstenaar hulle portrette moes verf. So, hierdie stillewes was eintlik hulle manier om om te spog met hulle talent. Om te wys hoe goed hierdie kunstenaars tekstuur verstaan het en hoe hulle dit visueel kan kommunikeer. 

Soos ons deur die jare beweeg kom ons op die Impressionniste en Post-Impressioniste af,  mense soos Van Gogh.

Vincent Van Gogh

Kunstenaars het verf baie dik begin aanwend, onthou dit word Impasto genoem.

Impasto

Van Gogh was bekend vir sy ongelooflike vaardigheid met hierdie tegniek. Kyk net na hierdie pragtige teksture wat hy geskep met sy kwas hale.

Die Abstrakte Ekspressioniste was mal oor die teksture van verf. Hulle wou baanbrekers wees met hulle metodes van verf aanwend. Hierdie werk is deur kunstenaar Jackson Pollock. Kyk na die teksture wat hy geskep het deur verf te drup en letterlik rond te gooi.

Jackson Pollock

Hierdie is die Chinese kunstenaar Ai Weiwei se installasie genoem “Snake Bag”.

Hierdie kunswerk maak gebruik van rugsakke om ‘n interessante tekstuur te skep.  Die werk lewer kommentaar op ‘n aardbewing wat China in 2008 getref het.  Omtrent negentig duisend mense is dood. Ai Weiwei het die slang van rugsakke gemaak om die dood van meer as vyfduisend kinders te herdenk wat omgekom het toe hulle swak geboude skool in mekaar gestort het.

Die Suid-Afrikaanse kunstenaar Penny Siopis het in haar vroeë kunswerke gebruik gemaak van interessante tegnieke om teksture te skep. Haar ouers het ‘n bakkery besit en sy die bakinstrumente gebruik soos versiersakkies om tekstuur in olieverf skilderye te kry.

Penny Siopis

Die Amerikaanse kunstenaar Jeff Koons is bekend vir sy werke wat handel oor populêre kultuur en sy beelde wat alledaagse voorwerpe uitbeeld. Dit sluit sy bekende ballondiere in.  Dit word geproduseer uit vlekvrye staal met ‘n hoё spieëlafwerking. Vir my is dit ‘n interessante gebruik van ‘n gladde tekstuur.

Die Suid-Afrikaanse kunstenaar Nicholas Hlobo kombineer, linte, motorbande en been in sy beelde om interessante teksture te skep.  Hy baseer hierdie beelde op sy Xhosa herkoms.

Nou dat jy meer weet oor tekstuur besef jy dit is ‘n baie belangrike boublok om kunswerke te skep.  Jy moet hierdie kennis gebruik om jou eie kunswerke te verbeter.

Watter vrae moet jy jouself vra?

Wanneer jy na jou eie kunswerk kyk, vra jouself die volgende af: Kommunikeer ek die tekstuur van hierdie voorwerp?  As die toeskouer na my kunswerk kyk, kan die kykers hulle voorstel hoe hierdie voorwerp sal voel? As die antwoord nee is, dan moet jy aanhou teken of verf totdat jy die tekstuur behoorlik gekommunikeer het.

Wanneer mens 3-dimensionele voorwerpe soos beelde of installasies skep, dink aan tekstuur as ‘n boodskap. 

3-Dimensionele kunswerke

Wat is relevant van jou kunswerk?  Wat is relevant in vir jou komminikasie. As jy van besoedeling praat, gebruik dalk plastiek om mee te weef en ‘n beeld te skep wat waarde sal heg aan die dieper betekenis van jou kunswerk.

Ek hoop julle weet nou hoe om ‘n verskeidenheid teksture in julle kunswerke te kommunikeer.

Gee vir ons ‘n “thumbs up” en bly ingeskakel vir ons volgende element van kuns video.

Besoek ons webwerf en koop ons wonderlike werkskaarte om die 7 elemente van kuns nog beter te kan verstaan. Dit is ‘n wonderlike hulpmiddel om onderwysers tyd te bespaar en vir studente om werklik te leer hoe om die sewe elemente toe te pas.

KOOP Die 7 Elemente van Kuns Werkskaarte aanlyn: https://lilliangray.co.za/shop/die-7-elemente-van-kuns-werkskaarte/

Kyk gerus na die ander videos in the reeks: Lyn en Kleur

Leave a Reply